Boeremag onreg duur voort: Twee Pretorius-broers word verlof tot appèl geweier

Die twee Pretorius-broers Dr. Johan (middel) en Wilhelm (regs) gesels in die hof met hulle vader Dr. Lets Pretorius in die hofsaal van die Hooggeregshof te Pretoria voor vonnisoplegging in Oktober 2013.

Die twee Pretorius-broers, Dr. Johan en Wilhelm Pretorius, het 26 September 2016 verlof tot appèl aansoek gebring in die Hooggeregshof van Pretoria voor hulle verhoorregter, regter Eben Jordaan.  Adv. Pieter Luyt het namens die staat opgetree.  Hulle het hulle aansoek in persoon gebring, aangesien hulle regsverteenwoordiger, adv. Hercules Booysen ná drie jaar steeds nie deur die Regshulpraad vir die beskuldigdes aangestel is nie.

Die verrigtinge het begin waar die broers uitgewys het hoe die stukke wat hulle van die regshulpraad gekry het, wat veronderstel was om die hoflêer te wees, ’n mengelslaai van niksseggende dokumente is.  Hulle het ’n dokument aan die regter ingedien waarin ’n indeks van die dokumente op voorkom, wat selfs ander sake bevat en slegs die ewe-bladsye van hulle stukke, saam met ongeveer 1000 ander bladsye wat niks met die verlof tot appèl te doen het nie.  Hy het beslis dat dit wel nie hulle aansoek benadeel nie.

Hulle het eers kondonasie gevra omdat hulle drie jaar ná die vonnis van 28 Oktober 2013 verlof tot appèl vra en dit toegeskryf aan die aanhoudingsomstandighede en die regshulpraad se versuim om hulle regsverteenwoordiger aan te stel.  Daarna het hulle slegs enkele aspekte van hulle 40 bladsye betoogshoofde hanteer, terwyl die res deur die hof aanvaar is as deel van die rekord.

Dr. Johan Pretorius het bygevoeg dat dit ongrondwetlik was dat die strafproseswet van toepassing was, alvorens daar beslis is of Protokol 1, as byvoeging tot die derde Geneefse Konvensie van toepassing moes wees.  Hy voer aan dat art.45 van Protokol 1 vereis dat indien iemand van hoogverraad in vredestyd aangekla word, waar dit met ’n gewapende stryd te make het, moet hulle as krygsgevangenes gereken word, totdat ’n geskikte tribunaal daaroor beslis.  Terwyl hulle aanvoer dat die regter verkeerdelik beslis het dat hulle nie krygsgevangenes is nie, handel dit oor die proseduriële fout wat gemaak is.  Alvorens daar staatsgetuies kan wees, ’n klagstaat, gepleit word of enige kriminele vervolging kan plaasvind, vereis die protokolle dat daar eers bepaal moet word of hulle krygsgevangenes is of krimineel vervolg kan word.  Of hulle dit dan nou was of nie, hierdie proses moes eers gevolg gewees het en dit was nie.  Dit maak dat die hele verhoor, veral weens die wesenlike steun op mededaders se getuienis, indruis met Suid-Afrika se internasionale verpligting en daarom ongrondwetlik was.

Die staat het geen opponerende stukke ingedien nie.  Adv. Pieter Luyt het vir ongeveer 10 minute namens die staat betoog.  Hy het aangevoer dat die appèlhof nie slegs stukke hanteer wat akademies van aard is en geen verskil kan maak nie.

Hy het aangevoer dat die polisie nie sou kon insien dat hulle as krygsgevangenes gereken moes word nie aangesien daar siviele teikens gekies is.  Hulle was dan eerder terroriste soos wat Isis is.  Die hof het ook bevind dat die protokol nie van toepassing was in hierdie saak nie.  Dit maak daarom nie saak wanneer die aansoek plaasgevind het nie.  Die misdrywe is gedoen en die dade is wel gepleeg.

Oor Deon Loods se getuienis het hy gesê dat dit maar ’n windgewaai was.  Selfs al word aanvaar dat hy reg was, het hy niks oor die beskuldigdes gesê nie.  Daar is geen bewyse dat die inligting by die vervolgingsgesag uitgekom het nie.

Hy voer aan dat in hulle hele betoog daar nie ’n enkele aspek is wat ’n ander hof, selfs al kom die hof tot ’n ander besluit, dit enige ander gevolg sal hê op die vonnis nie.

Hy voer aan dat hulle broer Kobus Pretorius se verlof tot appèl oor slegs die vonnis sowel as sy petisie afgewys is en daarom sal die hof nie tot ’n ander bevinding kom oor die twee broers se vonnis nie.

Die staat het dus nie enige teenargument gehad oor die feit dat die broers vir drie jaar gesukkel het om te appelleer nie.  Hulle het ook nie een van die punte van die broers se betoogshoofde van 40 bladsye direk aangespreek of weerlê nie.

Die Pretorius-broers het dadelik repliek gelewer en op die staat geantwoord dat hulle probleme met die hantering van die Krygsgevangenes-aansoek is volledig in hulle stukke hanteer.  Dit is ’n punt op sy eie.  Die ander punt wat hulle maak handel oor die prosedure.  Daar was ’n oorlogsverklaring, daar was bewysstukke wat handel oor weermagsbasisse wat oorgeneem word.  Die vermoede moes dus bestaan het dat die protokolle van toepassing kan wees.  Weens daardie vermoede wat bestaan het, moes daar eers ’n beslissing plaasgevind het of die protokolle van toepassing kan wees al dan nie, voordat kriminele vervolging kon plaasvind.  Selfs voordat mededaders tot staatsgetuies gemaak is, want geen persoon of ander instansie kan ’n persoon se krygsgevangenestatus ontsê behalwe deur ’n geskikte tribunaal wat bepaal dat dit nie van toepassing is nie.  Die staat mis dus die punt en dit was ’n proseduriële fout wat gelei het tot verbreking van internasionale konvensies en sodoende ook die verhoor ongrondwetlik gemaak het.

Hulle het ook aangevoer dat die appèl nie slegs akademies is nie, want sou ’n hof een van hulle punte gelyk gee, kan dit lei tot ’n ongrondwetlik-verklaring van die hele verhoor en die hele verhoor kan as onregverdig verklaar word.  Die appèl het dus wesenlike effek.

Die regter het onmiddellik sy uitspraak gelewer van sy notas af.  Hy het kondonasie gegee vir die aansoek.  Hy het nie ’n derde van die punte van die broers in sy uitspraak aangespreek nie, maar summier verlof tot appel geweier.  Hy het niks gesê dat die verdere drie jaar vertraging wat hulle moes verduur het en nie kon appelleer nie, onregverdig is nie.  Hy het gesê dat dit die langste verhoor was in die geskiedenis van Suid-Afrika, maar dat die saak uniek was en dat elke “beskuldigde van loopgraaf tot loopgraaf geveg het met talle aansoeke wat hulle gebring het voor die hof”.  Die broers self het etlike aansoeke gebring en het aanvanklik alles ontken en kruisverhoor gelei.  Daarom was die lengte van die verhoor nie ongrondwetlik nie.

Die applikante bekla dat hulle nie borg gekry het nie, maar dit het niks met sy hof te doen nie.

Hulle het bekla dat hulle nie effektiewe regsverteenwoordiging gehad het nie, maar hy het alles in sy vermoë gedoen om vir hulle regsverteenwoordiging te verskaf.  Die appèlhof het ook beslis dat hy reg was.

Hy het reeds beslis oor hulle reg op krygsgevangenestatus en bevind dat die protokol geensins van toepassing is in hierdie saak nie.

Die beskuldigdes het gereeld bekla oor hulle aanhoudingsomstandighede en hy het gehelp waar hy kon.  Dit maak ook nie ’n verskil aan die wese van die saak nie.

Hy het bevind dat die staatsgetuies van mededaders ingevolge art.204 van die strafproseswet nie ongrondwetlik is nie en dat bevind is dat die hele strafregstelsel daarop gebou is.

Die applikante bekla oor die skending van hulle regsprivilegie, onder andere die aansoek waarin Deon Loots getuig het.  Hy het in sy lewe nog bitter min leuenaars gesien soos Deon Loots.

Die applikante bekla oor die samestelling van die hof, maar hy verstaan dit nie.  Die funksie van ’n assessor is om die regter by te staan.  Hy het nie eers met die assessors gepraat oor die vonnis nie.

Oor die klagte dat die GPS en rekenaar nie behoorlik verseël was nie, was dit nie in dispuut dat die beskuldigdes daar was nie.  Dit is slegs die rede waarom die beskuldigdes daar was, wat in dispuut is.

Regter Jordaan het gesê dat hy adv. Fick se senior was en dat daar talle kollegas voor hom verskyn.  Dit maak hom nie bevooroordeeld nie.

Hy beslis dat die applikante bekla oor die vonnis buitensporig is.  Hulle broer het maar 5 jaar minder gekry omdat daar buitengewone omstandighede was en hy blykbaar berou gehad het.  Sy petisie het nie geslaag nie en die appèlhof het dus met hom saamgestem dat dit reg was.

Geen ander hof sal dus redeliker wyse tot ’n ander bevinding kom nie.

Die broers het aangetoon dat hulle ’n petisie na die appèlhof gaan rig teen Jordaan se bevinding en gevra dat hy ’n bevel maak dat hulle die oorkonde van die verrigtinge kan kry.  Hy het dit gedoen.

Volgens die familie van die broers wat daar was, het hulle verwag dat regter Jordaan die verlof tot appèl gaan afkeur, omdat hy duidelik gewys het dat hy nie objektief is nie. Dit het vir hulle voorgekom of die broers die beste advokaat daar kon gehad het en die beste punte geopper het, dit sou nie verskil gemaak het nie, want die regter het ingestap met die wete dat hy nie hulle verlof tot appèl sou goedkeur nie.  Die staat was net so seker van hulle saak, dat hulle omtrent geen teen-antwoorde op die broers se stukke gebied het nie.  Die regter het ook slegs enkele punte hanteer en geswyg oor die res van al die ander punte.  Hy het seker nie ’n derde van die appèlpunte hanteer nie.  Dit wys net die absolute onregverdigheid en die klugspul waarin ons mense gewikkel is.  Dit is suiwer magsmisbruik en ’n onreg wat ten hemele skree en die effek is dat lewens vernietig word in die proses.

Laai die Mediaverklaring hier af: 2016-09-27-mediaverklaring-twee-pretorius-broers-word-verlof-tot-appel-geweier