Boerevolk Politieke Gevangenes nader Grondwethof

Mediaverklaring: Boerevolk Politieke Gevangenes nader Grondwethof weens onwettige aanhouding

Junie 2017

So vroeg as reeds April 2002 is van die Boeremagbeskuldigdes gearresteer.  Op 19 Mei 2002 het die rekord-hofsaak begin, wat vir die volgende meer as elf jaar sou voortsleep in die Hooggeregshof te Pretoria.  Die hoofaanklag waarvan 24 manne beskuldig was, is hoogverraad.  Terwyl sommiges borg gekry het, onder uitermatig streng borgvoorwaardes, het elf van die aangeklaagdes vir 11 jaar lank in aanhouding gebly en is borg eenvoudig geweier.  Almal (behalwe twee wat oorlede is in die tyd van die maraton-hofsaak) is skuldig bevind aan hoogverraad en is verskeie vonnisse opgelê op 28 Oktober 2013.  Die opmerking van regter Eben Jordaan dat hy die 11 jaar wat hulle in aanhouding as deel van hulle vonnisse in berekening gebring het, het bloot lippediens geblyk, nadat hy sommige van die veroordeeldes tot nóg 25 jaar effektiewe tronkstraf opgelê het. Die uitermatige streng borgvoorwaardes waaronder sommiges gebuk gegaan het, blyk ook nie deur Jordaan in berekening gebring te wees, as deel van hul vonnisse, nie.

Die wet vereis dat verlof tot appèl gevra word binne 21 dae nadat vonnisse opgelê is. Die Boeremaglede bevind hulleself die afgelope sowat 4 jaar sedert vonnisoplegging, in ’n sisteem wat effektief hulle grondwetlike reg op appèl ontneem.  Van die manne kon nog nie eers daarin slaag om aansoeke bring om verlof tot appèl te vra nie.  Almal wat wel daarin kon slaag om verlof tot appèl te vra, moes hul aansoeke weer bring voor regter Jordaan, wat al die aansoeke summier van die hand gewys het.  Die manne wie se aansoeke om verlof tot appèl deur regter Jordaan afgekeur is, beywer hulle intussen om ’n petisie aan die appèlhof te rig, ten einde verlof te verkry om te mag appèlleer, maar slaag nie daarin om so ʼn aansoek te bring nie.  Sommiges se regsverteenwoordigers kom nie uit die blokke uit nie.

Dr. Lets Pretorius en twee van sy seuns, drs. Johan en Wilhelm Pretorius, het ná nagenoeg vier jaar se gesukkel, sonder sukses, besluit om direk ’n petisie aan die regter-president van die Grondwethof, regter Mogoeng-Mogoeng, te rig.  In die petisie voer hulle aan hoe die sisteem hulle reg tot appèl effektief ontneem.  Dit sluit in: hulle aanhoudingsomstandighede wat deur die Departement van Korrektiewe Dienste veroorsaak word, die vertragings en sloerings as gevolg van die wan-administrasie van die Regshulpraad en die howe sélf wat daartoe bydra om die proses onregverdig en onwettig te maak.  In hulle petisie vra die drie drs. Pretorius dat regter Mogoeng-Mogoeng ’n bevel moet maak dat prof. Hercules Booysen as hul advokaat en mnr. Julian Knight as hul prokureur deur die Regshulpraad as hul regsverteenwoordigers aangestel moet word ten einde die grondwetlikheid van hulle aanhouding aan te veg.  Hulle voer aan dat hulle die grondwetlike reg het om te appèlleer en dat hulle die reg het dat die juridiese proses begin en afgehandel word sonder onredelike en onregverdige vertragings.  Die vertragings van die sisteem ontneem hulle effektief van daardie regte en daarom is hulle verhoor onregverdig.  Om aangehou te word op grond van ’n onregverdige verhoor, maak die aanhouding ongrondwetlik en per se onwettig. Om by te voeg, is die die internasionale standaard vir enige hofsaak 10 jaar vanaf arrestasie totdat alle vorme van appèl uitgeput is. Die Boeremagsaak is reeds 15 jaar in aanvang.

Die drs. Pretorius het reeds (Mei 2017) hierdie petisie gerig en wag tans op die antwoord van die regter-president van die Grondwethof.

Boervin is ’n nie-winsgewende maatskappy wat ywer vir die vryheid van die Boerevolk Politieke Gevangenes.  Ons steun hierdie aansoek van die drs. Pretorius en vra dat die gemeenskap hierdie aansoek ʼn gebedsaak sal maak om te slaag.  Ons vra ook dat u Boervin sal help om ons in staat te stel om hierdie onreg wat steeds teen die Boerevolk Politieke Gevangenes voortwoed, nasionaal en internasionaal bekend te maak, sodat daar na 15 jaar ’n einde kan kom aan die onreg.

Riëtte van Schalkwyk
(Woordvoerder van Boervin)

Laai die petitsie hier af vir volle besonderhede: 2017_04_20_Petition_of_constitutional_relief

Skakel na Soundcloud: https://soundcloud.com/user-476947088/boervin-mediaverklaring-boerevolk-politieke-gevangenes-nader-grondwethof/s-FxYmk


Besoek die YouTube Videokanaal hier: https://www.youtube.com/channel/UCIeg5kloPyxFxCwDEM2Sctg