Mediaverklaring: Die waarheid oor aantygings van ‘Boeremag’-infiltrasie in SITA-sisteme

Mediaverklaring in reaksie op mediaberigte van 2 Mei 2018 waar bewerings gemaak word rakende die sogenaamde infiltrasie van ‘Boeremag-lede’ in die regering se SITA sisteme. Hierdie verklaring dien ook as reaksie op bewerings dat voormalige SITA werknemer, Mnr André du Toit, betrokke is by SITA-infiltrasie vanuit die gevangenis.

Taktiek van valse aantygings tydens Boeremagbeskuldigdes se hof-aansoeke

Dit is baie verdag dat hierdie valse aantygings wat nou ewe skielik in die parlement gemaak word die hele sogenaamde ‘Boeremag’ betrek. Dit is ook uiters verdag dat die drie dokters Pretorius (Dr Lets, Wilhelm en Johan) subtiel aan die SITA-voorval gekoppel word. Die drie lede van die Pretorius-gesin word valslik aan die voorval gekoppel deur ʼn foto wat in die Citizen-koerant van 2 Mei 2018 gepubliseer is. Boervin vind dit verdag dat die berig geplaas is terwyl daar tans ʼn hofuitspraak hangend is rakende ʼn aansoek van die gesinslede om hul rekenaars in hul selle te hê vir studie-doeleindes. Boonop het die Pretoriusse geen kennis van programmering nie en hoegenaamd geen begeerte om enige sisteme te infiltreer nie. Al hul energie word tans toegesprits op hofaansoeke rakende hul gevangenishouding. Die beriggewing gaan selfs sover soos die plaas van ʼn video op die Youtube-kanaal, News101. Die video verbind die Pretorius-gesinslede met die parlementêre beriggewing wat op 2 Mei gepubliseer is deur die plaas van ‘n foto van die Pretorius gesinslede as die agtergrond.

In 2011 het van die Boeremagbeskuldigdes ʼn aansoek gebring voor regter Vorster om Internet in hul selle te verkry. Misdaadintelligensie en die ondersoekbeamptes het dieselfde tipe vuil taktiek gebruik en dieselfde tipe drogbeelde tydens die aansoek in die media voorgehou. Laasgenoemde is ‘n blatante taktiek om hul hofsaak te belemmer deur voor te hou dat  dit ʼn groot risiko is vir die manne om Internet in hul selle mag hê omdat hul kwanssuis “te gevaarlik” is. Regter Vorster het gelukkig in 2011 deur Misdaadintelligensie se vuil taktiek gesien en die aansoek teen die koste van die Departement van Korrektiewe Dienste toegestaan.

Die Pretorius dokters in proses om ʼn aansoek te bring in die internasionale menseregte hof

Afgesien van die rekenaar-aansoek van die Pretoriusse is dit is baie interessant dat Misdaadintelligensieweereens as ʼn betrokke party genoem word in die berigte. Veral omdat die drie Pretorius dokters tans besig is met ʼn internasionale klagte teen die Boeremagsaak voor die internasionale menseregte-hof.

Noudat Misdaadintelligensie se uitlokkings en onregmatige optrede tydens die jarelange Boeremag-verhoor onder die ko llig geplaas gaan word, word hierdie gerugte in die parlement gemaak teen die ‘Boeremag’.

Hierdie aantygings is vermoedelik ook gemaak om negatiewe impak te bewerkstellig teen Mnr André du Toit wat in Oktober 2018 in aanmerking kom vir parool.

Verder is van die Boeremag-gevangenes se amnestie aansoeke ook ingedien en hierdie aantygings in die parlement teen die ‘Boeremag’ is heel moontlik juis nou gemaak met die doel om ‘n negatiewe impak te hê op President Cyril Ramaphosa se besluit rakende hul presidensiële kwytskelding-aansoeke.

Dit dui net daarop dat die onregverdigheid steeds teen hierdie manne voortduur terwyl hulle tydens die afgelope 16 jaar geen bedreiging vir die samelewing ingehou het nie.

Mnr André du Toit se betrokkenheid by die SITA-infiltrasie beskuldigings

Dit is algemene kennis dat Mnr André du Toit vriende is met verskeie werknemers van SAPD en SITA omdat hy ʼn voormalige werknemer van beide instansies was sedert die 90’s. Sommige van sy voormalige kollegas, wat ook sy vriende is vir baie jare, het vir hom kos gebring tydens die 10+ jaar Boeremagverhoor (2003 – 2013) en bydraes gemaak as blote vriende vir sy mees basiese behoeftes, soos telefoonkaarte, omdat hy alles verloor het weens die Boeremaghofsaak.

Du Toit is eers in Oktober 2013 vir ʼn addisionele 20 jaar gevonnis tesame met die ander ‘Boeremag’-slagoffers wat verskeie vonnisse opgelê is. Volgens Boervin se kennis het Du Toit in Oktober 2013 laas met enige iemand op “Facebook” kontak gehad, asook vriendskaplike e-pos kommunikasie met sy vriende. Dit was tydens die periode waartydens hy wettig toegang gehad het tot die Internet weens die hofaansoek in 2011 wat hy en ander Boeremaglede gewen het. Boervin is onbewus van enige verdere kontak wat Du Toit met die buitewêreld gehad het.

Boervin is van mening dat dit hoogs onwaarskynlik is dat Du Toit SITA se sisteem infiltreer het. Al hierdie aantygings en beskuldigings is bloot valse propaganda om die sogenaamde ‘Boeremag’ te diskrediteer en ry op die rug van die sogenaamde ‘nasionale sekuriteits bedreigings’ van die SITA-voorval. Alles word gedoen om die illusie te skep dat hierdie individue ʼn ‘bedreiging’ is. Boonop het die Boeremag het reeds 16 jaar gelede ontbind.

Die ‘Boeremag’ spook

Die spoke wat opjaag word is waarskynlik die gevolg van ʼn uitgediende regse reaksionêre lessenaar van Misdaadintelligensie (MI) wat die sinvolheid van hul bestaan probeer bewys. MI probeer hul bestaan regverdig in ʼn era waar daar geen regse bedreiging ingehou word nie.

Die volgehoue monitoring van die ‘Boeremag-spook’ is ʼn absolute vermorsing van MI en die polisie se hulpbronne aangesien die sogenaamde ‘Boeremag’ vir die afgelope 16 jaar reeds, nie meer bestaan nie.

Dít terwyl Suid-Afrika van die hoogste moordsyfers ter wêreld het en volksmoord en plaasaanvalle aan die orde van die dag is. Dit is waaragtig tyd vir die sensasie-soekende Misdaadintelligensie werknemers wie hierby betrokke is, om op te hou met die opjaag van Boeremagspoke en hul toe te spits op die bekamping van die werklike misdaad-krisis in die land.

Boervin se doel

Boervin se doel is om die onreg en aanhoudende menseregte-skendings teen die Boerevolk se politieke gevangenes nasionaal en internasionaal ten toon te stel. Boervin voer die wettige vrylating van hierdie politieke gevangenes aan.

Boervin ondersteun nie die ‘Boeremag’ nie, omdat die ‘Boeremag’ nie bestaan nie. Boervin tree namens individue op wie hulleself beskou as politieke gevangenes van die Boervolk. Dit sluit voormalige lede van die voormalige ‘Boeremag’ wat 16 jaar gelede ontbind het, in.

Skenk aan Boervin om te help met ons missie: http://boervin.org/skenk/


Skakels na mediaberigte aangaande hierdie mediaverklaring:

NETWERK24: https://www.netwerk24.com/Nuus/Politiek/boeremag-infiltreer-glo-staat-se-it-stelsel-20180502
NETWERK24 (opvolgartikel): https://www.netwerk24.com/Nuus/Hof/boeremag-leier-kon-staat-se-inligting-in-tronk-kry-20180502
NETWERK24 (opvolgartikel 2): https://www.netwerk24.com/Nuus/Algemeen/dis-nie-die-boeremag-se-werk-20180502
MAROELAMEDIA: https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/boeremag-het-glo-toegang-tot-sapd-infrastruktuur/
VF PLUS: http://www.vfplus.org.za/nuutste-nuus/bewerings-dat-boeremag-sita-binnedring-n-rookskerm-vir-onbevoegdheid

Vir navrae kontak:

Riëtte Pretorius
Woordvoerder van Boervin
E-mail: boervinorg@gmail.com
Selfoon: 082 776 6597
Webwerf: www.boervin.org